Vanoggend toe ek wakker word nadat my wekker afgegaan het, staan ek op soos gewoonlik en wil kombuis toe gaan om die ketel te gaan aansit. Die kamer was nog effens donker en ek doen toe ook nie moeite om my oë heeltemal oop te maak nie. Ek ken mons die pad kombuis toe en uit gewoonte uit weet ek presies waar staan wat en loop om en oor die normale dingetjies in my plekkie. Maar vanoggend gebeur iets heeltemal anders met my. Ek voel iets hards voor my waarin ek vasloop en ’n dowwe klank van ’n deur wat nie verder kan oop as wat dit reeds is nie. Dit was die badkamer deur. Met ’n skok is ek nou heeltemal wakker en besef die deur was oop nadat ek dit gisteraand nog self oopgestoot het. So besef ek dan ook dat ek maar eerder my oë moet heeltemal oopmaak voor ek so probeer rondloop in my plekkie. Al ken ek die plek en weet waar alles is, kan daar tog ietsie uit plek uit wees en as ek nie gaan kyk wat ek doen dit nie, kan ek dalk seerkry of selfs iets breek…
Maak ons nie dalk partykeer in ons lewens ook so nie. Loop ons nie maar deur die lewe uit gewoonte met ons oë toe in ons daaglikse roetines sonder om rondom ons te kyk wat om ons aangaan nie. Ons is so doelgerig en weet wat ons moet doen dat ons net op die paadjie bly wat ons dag na dag stap. Loop elke dag op dieselfde ou roetine omrede ons dit ken en dat dit so gemaklik is om nie te verander nie. En dan as ons ook ons oë soms toe maak dan sien ons nie as daar iets voor ons op die pad kom nie en dan eers as dit te laat is “daarin vasloop,” dan besef ons eers daar is iets vreemds aan die gang. Soms kan dit moeilikheid wees of selfs iemand anders wat in moeilikheid is, maar nou is ons daarin en dit is amper te laat om te voorkom. Nou moet jy dit maar hanteer en uitsorteer waar jy dit dalk kon vermy het. Ek dink ek self is partykeer skuldig hieraan. Veral in my werk. Ek weet mons wat ek doen en ken my werk nou al so goed dat ek dit uit roetine uit kan doen. Is dit dan reg? Moet ons nie eerder waaksaam wees ten alle tye vir iets vreemds of anders wat op ons pad kan beland nie? Net soos daar iets slegs op ons pad kan wees, kan daar dalk ook iets goeds op ons pad kom en as ons oë uit gewoonte uit toe is, gaan ons dalk ’n geleentheid mis. Dalk moet ons as mens net partykeer bietjie uit ons roetines uit beweeg en net iets anders doen. Dalk is dit om iets goeds vir iemand te doen of selfs net iets goeds vir jouself. Maak nie saak hoe goed ons dink ons, ons paadjie ken nie, daardie paadjie word tog op die ou einde nie deur ons bepaal nie, maar deur ons Hemelse Vader. Sien ons nog wat Hy wil hê ons moet sien of is ons oë uit gewoonte maar toe?
So ook kan iets eenvoudig soos ’n deur wat oopstaan jou lewe verander. Die oop deur het my beslis laat dink vanoggend. Ek hoop my badkamer deur het nie net vir my iets gewys nie, maar dat iemand anders die oomblik saam my sal verstaan en beleef soos ek. Dit mag dalk iets kleins en eenvoudig wees, maar ek hoop die stukkie inspireer iemand anders ook soos wat ek geïnspireerd was om dit te skryf.