Tag: Afrikaans

Vrae

’n Gedagte veldtog. ’n Innerlike struweling na antwoorde. Vrae wat gevra word aan jouself. Waar en wanneer sal jy tog antwoorde kry?

Hier waar ek sit en skryf, het ek soveel worstelinge met gedagtes in my binneste. Ek het soveel onverklaarbare vrae wat ek nie verstaan nie. En hoe dan nou as jy die vrae nie verstaan nie sal jy kan antwoorde kry? Ek dink ek het vrae wat ek aan myself vra wat ek nie gedink het ooit hoef gevra te word nie. Soveel te meer weet mens soms nie werklik wat die punt is om so te sit en vrae vra op dinge wat jy weet jy nie gaan antwoorde sal vind nie.

Waarheen vat die gejaag van die lewe ons dan nou? Waar gaan ons op eindig en is dit dan die werklike doel waarvoor ons bestem is. Ek wonder die afgelope tyd baie oor my “doel” in die lewe. Ek hoor so baie mense praat en sê dat jy ’n doel hier op aarde het en dat jy volgens daardie doel moet lewe met alles in jou. Jy moet strewe om in daardie doel te volhard. Maar hoe weet jy dat die doel wat jy najaag, die doel is wat jy moet in volhard. Ons bid en vra vir rigting, maar luister ons werklik vir antwoorde of het ons in ons gedagtes klaar besluit wat ons doel is? Ek dink so aan wat ons elke dag sit en doen. Ons sit by die werk en soms ook net omdat ons moet werk en geen ander keuse het nie. As mens nie werk nie bewerkstellig jy jou eie ondergang in vandag se lewe. As jy nie werk nie kan jy hoegenaamd niks doen nie. Dit bring my nou by die groot woord “geld”. Dit is tog hoekom ons werk. As jy nie geld het nie, kan jy nie funksioneer nie. Veral nie in vandag se lewe waar geld die wêreld regeer nie. Ja, ek sê dit weer want dit is hoe ek dit sien. Geld regeer die wêreld! En as ek sê die wêreld bedoel ek die mens daarby. Geld kan mense dryf om amper enige ding te doen. Geld laat jou werk. Geld laat mense steel. Geld laat mense moor en so kan ek aangaan. Wat ’n mens nie alles vir geld sal doen nie…

Ek dink dat geld die mens se doel hier op aarde kom verdoesel het. Ek dink geld maak mense blind om nie jou werklike doel in die lewe te kan raaksien nie. Dink net hoe die wêreld sou wees as jy geld laat verdwyn en dit met liefde kan vervang. As al waarvoor jy werk vir liefde is. As al wat mens nodig gehad het liefde was. Net liefde! Jy sou soveel liefde gehad het, dat jy uit liefde vir die wat nie het nie sou gee. Jy sou soveel liefde gehad het dat jy nie ander sou wou leed aandoen nie. Uit liefde uit sou jy nie ander ingedoen, verskree en sleg behandel het nie. Hoekom moet mens dan so hard werk vir geld? Hoekom moet ons so baie tyd opgee en familie en vriende eenkant toe skuif sodat ons kan werk vir geld? En hoekom as jy dit besef en probeer ’n verskil maak, word jy vertrap en vernietig? Is daar dan al hoe minder plek in ons ou wêreld vir liefde en vrede?

Ja, soveel vrae sonder antwoorde. Ek skryf maar terloops. Ek vra maar die vrae. Of ek ooit antwoorde gaan kry, dit sal ek nie weet nie. Of ek ooit die mens sal kan verstaan, dit weet ek nog minder. Is dit wat ek skryf dalk my doel op aarde? Wie weet?

Bou eerder op…

Dit is weer so naby aan die feestyd en alles om ons raak vreeslik bedrywig. Die tempo by die werk raak vinniger en selfs in die winkelsentrums kan mens die verskil sien. Kersversierings is al klaar opgesit en hier en daar begin mens Kersliedere hoor. So naby aan Kersfees, tog ook nog so vêr. Hoekom is alles so gejaag? Is dit dan nou nie juis die tyd waar mens moet rustig raak nie?

Ek kan nie anders as om te sien hoe ons wêreld besig is om te verander nie. Ek weet nie heeltemal of dit ten goede doen nie, maar daar is beslis ’n groot verandering by die mensdom. Soms probeer ek om verby alles te kyk. Soms probeer ek die goed in die sleg te sien maar vir hoe lank? Vir hoe lank moet ons so sukkel en toekyk hoe die een na die ander mens net ten bate van homself leef en geen gevoel het meer vir diegene om hom of haar nie. Hoe lank voor ons ook besef dat as jy nie vir jouself opstaan, jy vertrap gaan word nie. Ek beskou myself as ’n persoon met ’n redelike sagte geaardheid en ek verkies om nie iemand anders sleg te sê of te verneder nie. Ek verkies om mense om my met respek te behandel en altyd konflik te vermy. Ek gebruik die woord “verkies” omrede dit inderdaad ’n keuse is wat mens maak om so te wees. Ja jy is verantwoordelik vir jou optrede en jou dade en jy is die een wat die keuses maak om so op te tree. My groot probleem wat ek nou mee worstel, is hoe moet ek optree teenoor die wat kies om ongeskik, onbedagsaam en net doodeenvoudig nie goeie geaardheid beskou as belangrik nie. En nog soveel meer begin ek besef dat mense wat so optree nie net stadig aan besig is om hulself so negatief te maak in die lewe nie, maar dat hulle besig is om al hoe meer klein nuttelose dingetjies as meer belangrik te begin ag as die dinge wat werklik saak maak. Die dinge wat werklik gedoen moet word in stede van tyd vermors op dinge wat geen verskil ten goede gaan maak nie na te jaag. Ek meen wat baat jy daar by om deur jou negatiewe bombastiese houding ’n ander persoon af te breek en negatief te maak, waar jy eerder so ’n persoon kon opgebou het en die positiewe vrugte van ’n positiewe, geïnspireerde persoon kon aanwend op die mees doeltreffendste manier. Dit klink dalk nou so verregaande wat ek hier skryf, maar maak dit dalk nie sin nie? Is dit dalk nie die groot probleem wat ons tans mee sit in hierdie wêreld nie, dat ons eerder wil afbreek as opbou. En hierdie afbreek vind letterlik en figuurlik plaas. Mense breek mense af en mense breek dan die omgewing en natuur af. Die mens is besig om in ’n afbrekende en vernietigende fase oor te gaan in die plek van waar ons eerder moet opbou en heelmaak.

Ek dink soos dit nader aan die feestyd raak, moet ons elkeen net weer rustig raak. Ons moet om ons kyk en probeer evalueer of ons besig is om te bou, of af te breek. Vergeet van mooi Kersversierings en liedere want sonder liefde, beteken dit niks. Ek vra weer… Hoekom is alles so gejaag? Is dit nou dan nie juis die tyd waar mens moet rustig raak nie?

My Badkamer Deur

Vanoggend toe ek wakker word nadat my wekker afgegaan het, staan ek op soos gewoonlik en wil kombuis toe gaan om die ketel te gaan aansit. Die kamer was nog effens donker en ek doen toe ook nie moeite om my oë heeltemal oop te maak nie. Ek ken mons die pad kombuis toe en uit gewoonte uit weet ek presies waar staan wat en loop om en oor die normale dingetjies in my plekkie. Maar vanoggend gebeur iets heeltemal anders met my. Ek voel iets hards voor my waarin ek vasloop en ’n dowwe klank van ’n deur wat nie verder kan oop as wat dit reeds is nie. Dit was die badkamer deur. Met ’n skok is ek nou heeltemal wakker en besef die deur was oop nadat ek dit gisteraand nog self oopgestoot het. So besef ek dan ook dat ek maar eerder my oë moet heeltemal oopmaak voor ek so probeer rondloop in my plekkie. Al ken ek die plek en weet waar alles is, kan daar tog ietsie uit plek uit wees en as ek nie gaan kyk wat ek doen dit nie, kan ek dalk seerkry of selfs iets breek…

Maak ons nie dalk partykeer in ons lewens ook so nie. Loop ons nie maar deur die lewe uit gewoonte met ons oë toe in ons daaglikse roetines sonder om rondom ons te kyk wat om ons aangaan nie. Ons is so doelgerig en weet wat ons moet doen dat ons net op die paadjie bly wat ons dag na dag stap. Loop elke dag op dieselfde ou roetine omrede ons dit ken en dat dit so gemaklik is om nie te verander nie. En dan as ons ook ons oë soms toe maak dan sien ons nie as daar iets voor ons op die pad kom nie en dan eers as dit te laat is “daarin vasloop,” dan besef ons eers daar is iets vreemds aan die gang. Soms kan dit moeilikheid wees of selfs iemand anders wat in moeilikheid is, maar nou is ons daarin en dit is amper te laat om te voorkom. Nou moet jy dit maar hanteer en uitsorteer waar jy dit dalk kon vermy het. Ek dink ek self is partykeer skuldig hieraan. Veral in my werk. Ek weet mons wat ek doen en ken my werk nou al so goed dat ek dit uit roetine uit kan doen. Is dit dan reg? Moet ons nie eerder waaksaam wees ten alle tye vir iets vreemds of anders wat op ons pad kan beland nie? Net soos daar iets slegs op ons pad kan wees, kan daar dalk ook iets goeds op ons pad kom en as ons oë uit gewoonte uit toe is, gaan ons dalk ’n geleentheid mis. Dalk moet ons as mens net partykeer bietjie uit ons roetines uit beweeg en net iets anders doen. Dalk is dit om iets goeds vir iemand te doen of selfs net iets goeds vir jouself. Maak nie saak hoe goed ons dink ons, ons paadjie ken nie, daardie paadjie word tog op die ou einde nie deur ons bepaal nie, maar deur ons Hemelse Vader. Sien ons nog wat Hy wil hê ons moet sien of is ons oë uit gewoonte maar toe?

So ook kan iets eenvoudig soos ’n deur wat oopstaan jou lewe verander. Die oop deur het my beslis laat dink vanoggend. Ek hoop my badkamer deur het nie net vir my iets gewys nie, maar dat iemand anders die oomblik saam my sal verstaan en beleef soos ek. Dit mag dalk iets kleins en eenvoudig wees, maar ek hoop die stukkie inspireer iemand anders ook soos wat ek geïnspireerd was om dit te skryf.