Category: Kinderverhale

DIE MAN OP DIE SON

2016-02-27 18.57.00

Eendag lank, lank gelede toe ek en jy nog nie bestaan het nie en die aarde nog leeg was, was die son net ’n droë planeet. Daar was nog nie diere nie en ook nog geen plante op die aarde nie. Mens kan sê dat die aarde sonder lewe was want sonder ’n son wat helder en warm kon skyn was lewe net nie moontlik gewees nie.

Op ’n ’n dag gebeur daar iets baie vreemds op die son planeet. ’n Klein mannetjie, bloedrooi, skraal en vreeslik snaaks met ’n klein blou drakie vir ’n troeteldier land met sy ruimteskip daar op die son. Dit was nie duidelik waar hy vandaan gekom het nie, maar ek neem aan dat hy iewers vanuit die buiteruim gekom het. Sy naam was Zoppie. Zoppie het begin rondloop en probeer kyk of dit moontlik was om daar op die son vir hom ’n huisie te kon bou. Soos wat Zoppie rondgeloop het, het sy drakie hom gevolg. Zoppie het lank gesoek, maar het nie die geskikte plekkie gevind waar hy sy huisie sou kon bou nie.

Na baie ure se gesoek  keer hy uiteindelik terug na sy ruimteskip. Hy sê toe vir sy klein drakie dat hulle sal moet teruggaan waar hulle vandaan gekom het. Die drakie raak toe baie ontsteld en weier toe om in die ruimteskip in  te klim. Zoppie en die drakie raak toe in ’n vreeslike bakleiery betrokke. Die drakie word toe so kwaad dat hy met ’n vuur asem die son planeet se oppervlakte aan die brand steek. Zoppie het groot geskrik en het probeer om die vuur te blus, maar aangesien daar geen water naby was nie kon hy glad nie die vuur stop nie. Die vuur versprei toe ook so dat kort voor lank die ruimteskip ook aan die brand geraak het. Daar was Zoppie en die drake toe vir ewig en altyd op die son gestrand. Die vuur het versprei en so het die hele oppervlakte van die son een groot vuur bal gevorm.

Dit my liewe vriende is hoe die son dan ook ontstaan het soos wat ons dit vandag ken, as een groot brandende planeet. En as jy dalk wonder hoekom die son party dae warmer is as ander dae, is dit omdat Zoppie en die klein blou drakie vandag nog daar op die son rondloop en elke keer as hulle baklei dan blaas die drakie ekstra warm vlamme in die lug in en dit raak dan ’n baie warm sonskyndag.

(Vertelling deur my 9 jarige seun, Janco Jansen van Vuuren)

Advertisements