Tag: geloof

Die Sonsopkoms

Die sonsopkoms simboliseer die begin van ’n nuwe dag. So ook begin weereens ’n nuwe dag dan in my lewe vandag. Ek kan nie help om net ’n gevoel van dankbaarheid te ervaar vir alles om my en in my lewe nie. Dit is party dae vir ons as mens so vanselfsprekend dat die son sal opkom en ons nog ’n dag gaan deurgaan. Of dit nou ’n dag by die werk is of dalk by die huis. Of dit nou ’n weeksdag is of ’n naweek. Ons weet die son kom op.

Tog is dit nie vir almal so nie. Ons besef dit dalk nie of laat ek eerder sê, ons wil nie so daaraan dink nie. Daar is mense wat nie die son sien opkom nie. Mense wat dalk deur die nag hulle laaste asem gaan uitblaas. Mense wat nie daardie kans kry om op te staan en ’n nuwe dag te begin nie. Ons het Sondag in die kerk so ’n mooi preek beleef waar die dominee ook gepraat het van jy moet jou hart vir die Here gee, want jy weet nie of jy môre nog kans gaan hê om dit te doen nie. Soveel mense stel iets uit en sê ek sal dit môre doen, maar hoe weet jy dat jy môre gaan sien? Ek self is skuldig hieraan en dit is goed om so nou en dan opnuut te her hinder word van watse groot seën dit is om in die oggend jou oë te kan oopmaak.

Wees nederig. Leef in dankbaarheid. Sê gereeld vir die mense wat jy lief het hoe lief jy hulle het. Die sonsopkoms simboliseer opnuut ’n nuwe dag in my lewe en ek is dankbaar vir elke een.

 

Advertisements

‘n Engel

Soms het ek ’n gevoel wat ek kry van ‘lus wees’ om te skryf, maar sodra ek agter my rekenaar kom sit kan ek nie aan die gang kom nie. Ek het ’n idee om van ’n engel te skryf maar weet nie waar om te begin nie…

Ek het so baie dinge om te sê, maar weet nie altyd hoe om dit te verwoord nie. So asof my gedagtes net nie in woorde gevorm kan word nie, maar tog verstaan ek dit. Dan soos wat ek begin tik en die klank van die knoppies hoor, ja dan begin ek weer rustig raak en begin al hoe vinniger en vinniger te tik. So begin ek vervoer raak in ’n wêreld van gedagtes op skrif sit sonder dat ek werklik op die skerm kyk wat ek tik. Die begin van ’n nuwe skryfstuk gevorm uit unieke gevoelens en drome wat ek beleef in my eie wêreld. Ja so ook kan ek dan myself uitdruk en ook probeer iets van myself weergee. En al wil ek oor ’n engel skryf is dit ook my gedagtes rondom my siening wat ek neerlê. Soms verstaan ek myself ook weer beter nadat ek my eie skryfwerk gelees het en op skrif sien wat uit my gedagtes kom. Dan kan ek soms ook verstaan waar die gevoelens vandaan kom wat so in my ronddwaal.

Sommige mense sal sê as mens so sit en dink dat jy sit en ‘top’ oor iets. Ek beskou dit eerder as jy ‘verwerk’ ’n sekere gedagte of situasie. Hoe anders kan jy dan iets verstaan en reg hanteer as jy nie volkome daaroor gedink het uit alle moontlike rigtings nie? Ja, ek weet om so te sit en dink, veral as dit oor ’n probleem is, kan mens baie negatief raak. Veral as dit voel of jy nie antwoorde kan kry nie. Wanneer jy magteloos en hulpeloos voel. Asof alles net gebeur en daar is eintlik niks wat jy daaromtrent kan doen nie. Op daardie oomblik wil jy ook nie werklik met iemand daaroor praat nie omrede jy self nie weet wat om te sê nie. Ons almal was al daar en soms is dit moeilik om antwoorde so by jouself te kry. Soms help dit om te bid, maar soms weer is dit asof dit ook nie volkome genoeg is vir jou nie en dan bly jy maar net dink aan die situasie tot jy later aan so deurmekaar raak dat jy werklik nie antwoorde het nie. Dit is menslike natuur om so te voel. Ek dink ons skrywers sit meer so en dink as die mense om ons. Wil altyd oor amper alles skryf wat ons beleef en waaraan ons dink. Vorm idees in ons gedagtes en laat gaan weer daarvan ook. Dit is ons manier van praat met ander en die wêreld. As ons as mens deur die lewe gegaan het sonder enige bekommernisse of denke, glo ek nie sou ons werklik geweet het wat dit is om te leef nie. As alles net altyd goed gegaan het, sou jy nie die goeie tye na ’n slegte tyd kon waardeur nie. As ek so terugdink aan baie moeilike tye in my lewe en ek kyk dan na die goeie dinge wat daarop gevolg het, dan kan ek nie anders as om dankbaar te wees vir dit wat ek in my lewe het nie. En ek dink dit is baie belangrik om te verstaan dat baie dinge nie net vanselfsprekend is nie en ons opreg dankbaar moet wees daarvoor. Nou kom die vraag, maar waar pas ’n engel nou by alles in? Is ’n engel ’n hemel wese, of  iemand hier saam ons…

Soms as mens nie antwoorde het nie, kom gee iemand anders vir jou weer hoop en krag. Dalk nie deur ’n gesprek van woorde nie, maar soms ook net deur om daar te wees en vir jou ’n glimlag te gee waar jy besef, alles gaan reg uitwerk. Op daardie oomblik verander mens se gemoed sommer so en jy kan weer opstaan en aangaan. Al het jy nie op daardie oomblik die antwoorde op jou probleme gekry nie, het jy wel weer perspektief gevind om uit ’n ander oogpunt na dinge te kyk. Ek hoor in baie liedjies op sangers sing van ’n engel wat uit die hemel kom en hulle gebruik gewoonlik ook die woorde om ’n geliefde te beskryf. Mens besef dalk nie werklik daardie betekenis van die woorde nie tot en met ’n engel op jou pad kom. En as so ’n engel op jou pad kom en jy besef dit, ja dan moet jy dankbaar wees. Ook dan besef jy God se genade in jou lewe en jy besef ook dat Hy jou nooit alleen sal laat nie. God is altyd by ons en soms moet ons net om ons rondkyk om dit te besef. Daar is engele in hierdie wêreld. Of dit nou ’n engel in die vorm van ’n geliefde is en of dit ’n vreemde persoon is wat op jou pad kom en jou lewe totaal en al verander, hulle is daar. Ons moet soms regtig net om ons kyk en ons sal met verbasing kan sien hoe God in ons lewens werk. Ons aanvaar partykeer die mense om ons as vanselfsprekend en dat hulle maar net daar moet wees, maar wat as hulle nie daar was nie? Hoe sou jou lewe gewees het?

So was dit my idee om oor ’n engel te skryf. Net ’n idee om dankbaarheid te betoon aan die engele in my lewe. Of die engele om ons hemel wesens is of net doodgewone mense, daar is engele om ons, wees dankbaar daaroor…

Glo, Hoop en Vertrou

Vandag is dan ook weer nog ’n nuwe dag. Ons word wakker en begin ons normale roetines. Ek moet bieg dat ek die laaste week wat verby is ook bietjie “af” gevoel het en nie so positief was soos wat ek gewoonlik is nie. Die redes hiervoor is maar soos met alle normale mense, ’n tyd by die werk wat dit moontlik bietjie druk gaan en die laaste bietjie fisiese energie uit jou uitgetap word. Dan skeep jy dalk bietjie jouself af en begin simptome van stres wys. Sonder dat jy besef gaan jy stadig maar seker in ’n trant in van moeg opstaan en nie lus is om werk toe te gaan nie. Dan ook begin jy vergeet hoe dankbaar jy werklik moet wees vir alles wat jy het en kry. En skielik besef ek dit…

Ek dink dit gebeur ook so met alle mense en nie bloot oor die feit dat ons as mense soms voorspelbaar kan wees nie, maar deur die blote feit dat ons mens is. Ons is nie hemelwesens wat altyd sterk kan bly nie en ons moet aanvaar dat menswees saam die swakheid van menswees gaan. En dan ook weet ek almal is nie sterk genoeg om hulself weer uit so ’n oomblik uit te trek en weer op te staan en positief aan te gaan met jou lewe nie. Daarom is daar soveel om voor dankbaar te wees want ons het ’n God wat ons help en leiding gee. Ons bid tot Hom en vra vir krag en antwoorde. Ons bid vir genade en ons glo en vertrou. En dan vir die wat nie dit besef nie, gee God dalk iemand op jou pad om jou te laat onthou jy het soveel om voor dankbaar te wees. En dan op daardie oomblik kan jy weer met dankbaarheid op jou knieë gaan en so weer begin leef as die mens wat jy is en moet wees. ’n Mens gemaak en gevorm deur God, om Hom te loof en te prys en verheerlik deur alles wat ons doen.

Ek hou daarvan om positiewe skryf stukke oor die lewe te skryf en mense te help. Ek is moontlik dalk ook ’n gereedskap stukkie in hierdie wêreld wat bietjie vir bietjie herstelwerk doen. Ek skryf nie sommer oor christenskap nie en eerder oor positiewe dinge wat ek uit die lewe uit ervaar. Ek was bang om oor die Bybel te praat en van God te praat in van my skryfwerk omrede ek weet soveel mense gaan sommer daar en dan dalk ophou om my goedjies te lees. Dit is nie almal wat lus is vir nog ’n preek uit die Bybel as hulle af voel nie en soms lees mense my skryfwerk wat hoop en geloof verloor het. Ek wil nie daardie tipe mense afsit nie, want ek wil so graag my positiewe boodskap by almal deurbring. Ek wil so graag hê dat die klein bietjie wat ek uit my lewe uit deel, iemand anders ook kan help en positief maak.

En dit wat ek skielik dan vanoggend besef het… Ek word gelei deur ’n Almagtige God wat my inspireer en die talente gegee het om alles te doen wat ek doen. Hy het my gevorm in die mens wat ek is en deur Sy genade kan ek ’n positiewe deel bydrae tot die wêreld. Vir almal van julle wat hoop, moed of geloof verloor het wil ek graag ’n boodskap deurgee vandag. Daar is hoop en daar was nog altyd. Maak jou hart oop, maak jou gedagtes skoon. Kyk met geloofsoë na bo en aanvaar waar jou hulp vandaan sal kom. Dan en alleenlik dan, sal jy vrede hê en voluit kan lewe. Dan sal jou probleme nie meer so groot lyk nie en jy sal antwoorde kry. En onthou die belangrikste van alles, “ons is mens, ons maak ook foute,” ons almal doen. Moenie dat iets kleins so groot word en jou in die grond in aftrek nie. Jou probleme lyk dalk nou vreeslik en onoplosbaar, maar ek verseker jou dat daar altyd ’n weg is. Glo, hoop en vertrou…

 

My Badkamer Deur

Vanoggend toe ek wakker word nadat my wekker afgegaan het, staan ek op soos gewoonlik en wil kombuis toe gaan om die ketel te gaan aansit. Die kamer was nog effens donker en ek doen toe ook nie moeite om my oë heeltemal oop te maak nie. Ek ken mons die pad kombuis toe en uit gewoonte uit weet ek presies waar staan wat en loop om en oor die normale dingetjies in my plekkie. Maar vanoggend gebeur iets heeltemal anders met my. Ek voel iets hards voor my waarin ek vasloop en ’n dowwe klank van ’n deur wat nie verder kan oop as wat dit reeds is nie. Dit was die badkamer deur. Met ’n skok is ek nou heeltemal wakker en besef die deur was oop nadat ek dit gisteraand nog self oopgestoot het. So besef ek dan ook dat ek maar eerder my oë moet heeltemal oopmaak voor ek so probeer rondloop in my plekkie. Al ken ek die plek en weet waar alles is, kan daar tog ietsie uit plek uit wees en as ek nie gaan kyk wat ek doen dit nie, kan ek dalk seerkry of selfs iets breek…

Maak ons nie dalk partykeer in ons lewens ook so nie. Loop ons nie maar deur die lewe uit gewoonte met ons oë toe in ons daaglikse roetines sonder om rondom ons te kyk wat om ons aangaan nie. Ons is so doelgerig en weet wat ons moet doen dat ons net op die paadjie bly wat ons dag na dag stap. Loop elke dag op dieselfde ou roetine omrede ons dit ken en dat dit so gemaklik is om nie te verander nie. En dan as ons ook ons oë soms toe maak dan sien ons nie as daar iets voor ons op die pad kom nie en dan eers as dit te laat is “daarin vasloop,” dan besef ons eers daar is iets vreemds aan die gang. Soms kan dit moeilikheid wees of selfs iemand anders wat in moeilikheid is, maar nou is ons daarin en dit is amper te laat om te voorkom. Nou moet jy dit maar hanteer en uitsorteer waar jy dit dalk kon vermy het. Ek dink ek self is partykeer skuldig hieraan. Veral in my werk. Ek weet mons wat ek doen en ken my werk nou al so goed dat ek dit uit roetine uit kan doen. Is dit dan reg? Moet ons nie eerder waaksaam wees ten alle tye vir iets vreemds of anders wat op ons pad kan beland nie? Net soos daar iets slegs op ons pad kan wees, kan daar dalk ook iets goeds op ons pad kom en as ons oë uit gewoonte uit toe is, gaan ons dalk ’n geleentheid mis. Dalk moet ons as mens net partykeer bietjie uit ons roetines uit beweeg en net iets anders doen. Dalk is dit om iets goeds vir iemand te doen of selfs net iets goeds vir jouself. Maak nie saak hoe goed ons dink ons, ons paadjie ken nie, daardie paadjie word tog op die ou einde nie deur ons bepaal nie, maar deur ons Hemelse Vader. Sien ons nog wat Hy wil hê ons moet sien of is ons oë uit gewoonte maar toe?

So ook kan iets eenvoudig soos ’n deur wat oopstaan jou lewe verander. Die oop deur het my beslis laat dink vanoggend. Ek hoop my badkamer deur het nie net vir my iets gewys nie, maar dat iemand anders die oomblik saam my sal verstaan en beleef soos ek. Dit mag dalk iets kleins en eenvoudig wees, maar ek hoop die stukkie inspireer iemand anders ook soos wat ek geïnspireerd was om dit te skryf.