Month: November 2016

Bou eerder op…

Dit is weer so naby aan die feestyd en alles om ons raak vreeslik bedrywig. Die tempo by die werk raak vinniger en selfs in die winkelsentrums kan mens die verskil sien. Kersversierings is al klaar opgesit en hier en daar begin mens Kersliedere hoor. So naby aan Kersfees, tog ook nog so vêr. Hoekom is alles so gejaag? Is dit dan nou nie juis die tyd waar mens moet rustig raak nie?

Ek kan nie anders as om te sien hoe ons wêreld besig is om te verander nie. Ek weet nie heeltemal of dit ten goede doen nie, maar daar is beslis ’n groot verandering by die mensdom. Soms probeer ek om verby alles te kyk. Soms probeer ek die goed in die sleg te sien maar vir hoe lank? Vir hoe lank moet ons so sukkel en toekyk hoe die een na die ander mens net ten bate van homself leef en geen gevoel het meer vir diegene om hom of haar nie. Hoe lank voor ons ook besef dat as jy nie vir jouself opstaan, jy vertrap gaan word nie. Ek beskou myself as ’n persoon met ’n redelike sagte geaardheid en ek verkies om nie iemand anders sleg te sê of te verneder nie. Ek verkies om mense om my met respek te behandel en altyd konflik te vermy. Ek gebruik die woord “verkies” omrede dit inderdaad ’n keuse is wat mens maak om so te wees. Ja jy is verantwoordelik vir jou optrede en jou dade en jy is die een wat die keuses maak om so op te tree. My groot probleem wat ek nou mee worstel, is hoe moet ek optree teenoor die wat kies om ongeskik, onbedagsaam en net doodeenvoudig nie goeie geaardheid beskou as belangrik nie. En nog soveel meer begin ek besef dat mense wat so optree nie net stadig aan besig is om hulself so negatief te maak in die lewe nie, maar dat hulle besig is om al hoe meer klein nuttelose dingetjies as meer belangrik te begin ag as die dinge wat werklik saak maak. Die dinge wat werklik gedoen moet word in stede van tyd vermors op dinge wat geen verskil ten goede gaan maak nie na te jaag. Ek meen wat baat jy daar by om deur jou negatiewe bombastiese houding ’n ander persoon af te breek en negatief te maak, waar jy eerder so ’n persoon kon opgebou het en die positiewe vrugte van ’n positiewe, geïnspireerde persoon kon aanwend op die mees doeltreffendste manier. Dit klink dalk nou so verregaande wat ek hier skryf, maar maak dit dalk nie sin nie? Is dit dalk nie die groot probleem wat ons tans mee sit in hierdie wêreld nie, dat ons eerder wil afbreek as opbou. En hierdie afbreek vind letterlik en figuurlik plaas. Mense breek mense af en mense breek dan die omgewing en natuur af. Die mens is besig om in ’n afbrekende en vernietigende fase oor te gaan in die plek van waar ons eerder moet opbou en heelmaak.

Ek dink soos dit nader aan die feestyd raak, moet ons elkeen net weer rustig raak. Ons moet om ons kyk en probeer evalueer of ons besig is om te bou, of af te breek. Vergeet van mooi Kersversierings en liedere want sonder liefde, beteken dit niks. Ek vra weer… Hoekom is alles so gejaag? Is dit nou dan nie juis die tyd waar mens moet rustig raak nie?