Category: Afrikaans

Tyd

Tyd kom en tyd gaan. Hoe sal mens ooit die waarde verstaan? Ons leef in ’n wêreld waar alles om tyd draai. Jy moet so laat opstaan om weer so laat by die werk te wees. Jy moet dit nou gou doen want jy het net soveel tyd dan moet jy weer dit doen. Die bekende roetine vir soveel van ons. En dan kom die einde van die dag waar jy besef die dag is verby. Dit is tyd om huis toe te gaan en voor jy jou oë uitvee is ’n aand verby en die volgende dag begin weer met so oorweldigende tempo en die sekonde verander in minute, minute in ure en die ure maak gou-gou nog ’n dag.

Soveel mense het al geskryf oor die waarde van tyd. Soveel  meer oor verlore tyd wat nooit opgevang kan word nie.  Ons kan die mooiste woorde vaslê op papier van drome wat ons kon droom maar nooit die tyd benut het om sodoende drome in werklikheid te verwerk nie. Soms sal dit blyk dat daar net nooit genoeg tyd was nie en dat tyd so gou verbygaan sonder dat mens werklik besef dit is verby. Daar is dae of eerder tye wat ek so wens ek die tyd kon vries vir daardie oomblik. ’n Oomblik waar alles so perfek voel en alles in plek is. ’n Oomblik waar mens soveel blydskap en vrede ervaar dat jy net dankbaar is vir alles om jou. ’n Moment waar niemand daardie stilte kan verbreek en die war woel winde van die lewe al draaiend begin opsteek om ons en dinge so deurmekaar waai dat mens nie weet waar om te begin of te eindig nie.

Ek self gebruik die verskonings “daar’s nie nou tyd nie,” of “kom ons kry eers dit verby dan kyk ons daarna dit doen.” Voor jy jou oë uitvee dan is daar net eenvoudig nie meer tyd nie en soms wens jy dat jy maar net dit gedoen het en klaargekry het toe daar tyd was. Ek hou daarvan om ’n ding deeglik te beplan en oor en oor daarna te kyk om alle moontlike opsies te oorweeg van hoe alles moet uitwerk. Dan wil ek die ding so aanpak en so klaarmaak en enige verandering in my beplanning kan my so deurmekaar maak dat ek versteurd kan raak. Soms is so eienskap wat ongelukkig deel van my persoonlikheid is, tot groot nadeel van tyd. Ek wens soms ek kan net op die ingewing van die oomblik ook iets groots aanpak en dit deurvoer na mate van wat ook al gebeur in die proses. Wat ek wel besef het, is dat ten spyte van my persoonlikheid, ek dit wel soms regkry om net skielik ’n besluit te neem en dit dan uit te voer. Soms is van hierdie besluite wat so op die ingewing van die oomblik geneem is, van my beste besluite wat ek kon maak. En soms is dit nie net vir my nie, maar ook vir die mense om my.

Tyd kom en tyd gaan. Moet nooi dat dit by jou verby gaan. Ons leef in ’n wêreld waar alles om tyd draai. Tog bly dit jou keuse van hoe jou dag sal uitdraai… Gebruik elke sekonde, elke minuut en elke uur. Maak elke dag jou eie avontuur.

Vrae

’n Gedagte veldtog. ’n Innerlike struweling na antwoorde. Vrae wat gevra word aan jouself. Waar en wanneer sal jy tog antwoorde kry?

Hier waar ek sit en skryf, het ek soveel worstelinge met gedagtes in my binneste. Ek het soveel onverklaarbare vrae wat ek nie verstaan nie. En hoe dan nou as jy die vrae nie verstaan nie sal jy kan antwoorde kry? Ek dink ek het vrae wat ek aan myself vra wat ek nie gedink het ooit hoef gevra te word nie. Soveel te meer weet mens soms nie werklik wat die punt is om so te sit en vrae vra op dinge wat jy weet jy nie gaan antwoorde sal vind nie.

Waarheen vat die gejaag van die lewe ons dan nou? Waar gaan ons op eindig en is dit dan die werklike doel waarvoor ons bestem is. Ek wonder die afgelope tyd baie oor my “doel” in die lewe. Ek hoor so baie mense praat en sê dat jy ’n doel hier op aarde het en dat jy volgens daardie doel moet lewe met alles in jou. Jy moet strewe om in daardie doel te volhard. Maar hoe weet jy dat die doel wat jy najaag, die doel is wat jy moet in volhard. Ons bid en vra vir rigting, maar luister ons werklik vir antwoorde of het ons in ons gedagtes klaar besluit wat ons doel is? Ek dink so aan wat ons elke dag sit en doen. Ons sit by die werk en soms ook net omdat ons moet werk en geen ander keuse het nie. As mens nie werk nie bewerkstellig jy jou eie ondergang in vandag se lewe. As jy nie werk nie kan jy hoegenaamd niks doen nie. Dit bring my nou by die groot woord “geld”. Dit is tog hoekom ons werk. As jy nie geld het nie, kan jy nie funksioneer nie. Veral nie in vandag se lewe waar geld die wêreld regeer nie. Ja, ek sê dit weer want dit is hoe ek dit sien. Geld regeer die wêreld! En as ek sê die wêreld bedoel ek die mens daarby. Geld kan mense dryf om amper enige ding te doen. Geld laat jou werk. Geld laat mense steel. Geld laat mense moor en so kan ek aangaan. Wat ’n mens nie alles vir geld sal doen nie…

Ek dink dat geld die mens se doel hier op aarde kom verdoesel het. Ek dink geld maak mense blind om nie jou werklike doel in die lewe te kan raaksien nie. Dink net hoe die wêreld sou wees as jy geld laat verdwyn en dit met liefde kan vervang. As al waarvoor jy werk vir liefde is. As al wat mens nodig gehad het liefde was. Net liefde! Jy sou soveel liefde gehad het, dat jy uit liefde vir die wat nie het nie sou gee. Jy sou soveel liefde gehad het dat jy nie ander sou wou leed aandoen nie. Uit liefde uit sou jy nie ander ingedoen, verskree en sleg behandel het nie. Hoekom moet mens dan so hard werk vir geld? Hoekom moet ons so baie tyd opgee en familie en vriende eenkant toe skuif sodat ons kan werk vir geld? En hoekom as jy dit besef en probeer ’n verskil maak, word jy vertrap en vernietig? Is daar dan al hoe minder plek in ons ou wêreld vir liefde en vrede?

Ja, soveel vrae sonder antwoorde. Ek skryf maar terloops. Ek vra maar die vrae. Of ek ooit antwoorde gaan kry, dit sal ek nie weet nie. Of ek ooit die mens sal kan verstaan, dit weet ek nog minder. Is dit wat ek skryf dalk my doel op aarde? Wie weet?

Bou eerder op…

Dit is weer so naby aan die feestyd en alles om ons raak vreeslik bedrywig. Die tempo by die werk raak vinniger en selfs in die winkelsentrums kan mens die verskil sien. Kersversierings is al klaar opgesit en hier en daar begin mens Kersliedere hoor. So naby aan Kersfees, tog ook nog so vêr. Hoekom is alles so gejaag? Is dit dan nou nie juis die tyd waar mens moet rustig raak nie?

Ek kan nie anders as om te sien hoe ons wêreld besig is om te verander nie. Ek weet nie heeltemal of dit ten goede doen nie, maar daar is beslis ’n groot verandering by die mensdom. Soms probeer ek om verby alles te kyk. Soms probeer ek die goed in die sleg te sien maar vir hoe lank? Vir hoe lank moet ons so sukkel en toekyk hoe die een na die ander mens net ten bate van homself leef en geen gevoel het meer vir diegene om hom of haar nie. Hoe lank voor ons ook besef dat as jy nie vir jouself opstaan, jy vertrap gaan word nie. Ek beskou myself as ’n persoon met ’n redelike sagte geaardheid en ek verkies om nie iemand anders sleg te sê of te verneder nie. Ek verkies om mense om my met respek te behandel en altyd konflik te vermy. Ek gebruik die woord “verkies” omrede dit inderdaad ’n keuse is wat mens maak om so te wees. Ja jy is verantwoordelik vir jou optrede en jou dade en jy is die een wat die keuses maak om so op te tree. My groot probleem wat ek nou mee worstel, is hoe moet ek optree teenoor die wat kies om ongeskik, onbedagsaam en net doodeenvoudig nie goeie geaardheid beskou as belangrik nie. En nog soveel meer begin ek besef dat mense wat so optree nie net stadig aan besig is om hulself so negatief te maak in die lewe nie, maar dat hulle besig is om al hoe meer klein nuttelose dingetjies as meer belangrik te begin ag as die dinge wat werklik saak maak. Die dinge wat werklik gedoen moet word in stede van tyd vermors op dinge wat geen verskil ten goede gaan maak nie na te jaag. Ek meen wat baat jy daar by om deur jou negatiewe bombastiese houding ’n ander persoon af te breek en negatief te maak, waar jy eerder so ’n persoon kon opgebou het en die positiewe vrugte van ’n positiewe, geïnspireerde persoon kon aanwend op die mees doeltreffendste manier. Dit klink dalk nou so verregaande wat ek hier skryf, maar maak dit dalk nie sin nie? Is dit dalk nie die groot probleem wat ons tans mee sit in hierdie wêreld nie, dat ons eerder wil afbreek as opbou. En hierdie afbreek vind letterlik en figuurlik plaas. Mense breek mense af en mense breek dan die omgewing en natuur af. Die mens is besig om in ’n afbrekende en vernietigende fase oor te gaan in die plek van waar ons eerder moet opbou en heelmaak.

Ek dink soos dit nader aan die feestyd raak, moet ons elkeen net weer rustig raak. Ons moet om ons kyk en probeer evalueer of ons besig is om te bou, of af te breek. Vergeet van mooi Kersversierings en liedere want sonder liefde, beteken dit niks. Ek vra weer… Hoekom is alles so gejaag? Is dit nou dan nie juis die tyd waar mens moet rustig raak nie?

Onthou weer opnuut…

Dit is baie moeilik om te skryf as mens se gedagtes te besig is met dinge soos werk en jou daaglikse dingetjies. Soms raak mens so besig dat dinge net te vinnig by jou verbysnel. So het ek ook die afgelope tyd so besig geraak met nuwe uitdagings in my lewe en glad nie by skryf uitgekom nie. My lewe het aansienlik in ’n gejaag verander met veranderinge by my werk en dan het ek daarmee nog ’n besering opgetel en kan glad nie hardloop vir ’n ruk nie. Die wat my ken sal verstaan dat dit vir my  ’n groot frustrasie is om nie te kan hardloop nie en ek dink die swaarste gevoel nog was om te aanvaar dat ek nie nou kan hardloop nie. Soos dinge om my verander en met my verander is daar verskeie aanpassings wat ek moet maak elke dag. Ek moet sê in die begin van die maand het dit maar dol gegaan en ek het baie gesukkel om by te bly. Soms het ek negatief gevoel en ander tye net doodmoeg. Ek dink ek is nog nie eenhonderd persent gewoond aan die tempo waarteen my lewe nou verbygaan nie, maar ek moet sê dat dit al klein bietjie beter gaan .

Ek het al baie geskryf dat almal die lewe moet rustig vat en nie vervalle raak in die gejaag van vandag se lewe nie. Dit was soms ook vir my maklik om  daaroor te skryf omrede ek meer tyd gehad het om rond te kyk en die mooi dinge om my raak te sien. So besef ek ook dat ek self die laaste ruk amper in daardie slaggat geval het van die gejaag van die lewe. Ek dink dit is belangrik om op ’n punt te kom waar mens besef jy moet nou bietjie stadiger. Ek is baie dankbaar vir die wonderlike lewensmaat wat God vir my in my lewe gegee het, wat by my bly staan en my soveel moet inpraat. Sy is so ’n wonderlike mens en ek het nie genoeg woorde om te sê hoe dankbaar ek vir haar is nie. Soms is dit die mense om jou wat jou aan die gang hou en jou moet gee om voort te gaan. Ek het Sondag so in die kerk weer besef dat mens nie moet toelaat dat aardse dinge jou lewe so oorneem dat jy nie meer genoeg tyd het vir God en jou geliefdes nie. Liefde is ’n baie groter skat op hierdie aarde om bymekaar te maak as goud en silver. Dit is maar moeilik om dit altyd te onthou want ons is maar mens en ons is swak.

Ek wil vandag net vir ieder en elk her hinder om tyd te maak om lief te hê. Om tyd te maak om daar te wees vir die wat jou nodig het. Ons as mens weet nie hoe lank ons bestem is om hier op aarde te wees nie en dit is baie noodsaaklik om elke oomblik ten goede te benut en jouself nie met die negatiewe dinge van ’n sondige wêreld te moet ophou nie. Ek hoop dat almal wat my stukkie lees opnuut sal asem skep en net weer besef waaroor die lewe werklik gaan.

Die Sonsopkoms

Die sonsopkoms simboliseer die begin van ’n nuwe dag. So ook begin weereens ’n nuwe dag dan in my lewe vandag. Ek kan nie help om net ’n gevoel van dankbaarheid te ervaar vir alles om my en in my lewe nie. Dit is party dae vir ons as mens so vanselfsprekend dat die son sal opkom en ons nog ’n dag gaan deurgaan. Of dit nou ’n dag by die werk is of dalk by die huis. Of dit nou ’n weeksdag is of ’n naweek. Ons weet die son kom op.

Tog is dit nie vir almal so nie. Ons besef dit dalk nie of laat ek eerder sê, ons wil nie so daaraan dink nie. Daar is mense wat nie die son sien opkom nie. Mense wat dalk deur die nag hulle laaste asem gaan uitblaas. Mense wat nie daardie kans kry om op te staan en ’n nuwe dag te begin nie. Ons het Sondag in die kerk so ’n mooi preek beleef waar die dominee ook gepraat het van jy moet jou hart vir die Here gee, want jy weet nie of jy môre nog kans gaan hê om dit te doen nie. Soveel mense stel iets uit en sê ek sal dit môre doen, maar hoe weet jy dat jy môre gaan sien? Ek self is skuldig hieraan en dit is goed om so nou en dan opnuut te her hinder word van watse groot seën dit is om in die oggend jou oë te kan oopmaak.

Wees nederig. Leef in dankbaarheid. Sê gereeld vir die mense wat jy lief het hoe lief jy hulle het. Die sonsopkoms simboliseer opnuut ’n nuwe dag in my lewe en ek is dankbaar vir elke een.

 

‘n Engel

Soms het ek ’n gevoel wat ek kry van ‘lus wees’ om te skryf, maar sodra ek agter my rekenaar kom sit kan ek nie aan die gang kom nie. Ek het ’n idee om van ’n engel te skryf maar weet nie waar om te begin nie…

Ek het so baie dinge om te sê, maar weet nie altyd hoe om dit te verwoord nie. So asof my gedagtes net nie in woorde gevorm kan word nie, maar tog verstaan ek dit. Dan soos wat ek begin tik en die klank van die knoppies hoor, ja dan begin ek weer rustig raak en begin al hoe vinniger en vinniger te tik. So begin ek vervoer raak in ’n wêreld van gedagtes op skrif sit sonder dat ek werklik op die skerm kyk wat ek tik. Die begin van ’n nuwe skryfstuk gevorm uit unieke gevoelens en drome wat ek beleef in my eie wêreld. Ja so ook kan ek dan myself uitdruk en ook probeer iets van myself weergee. En al wil ek oor ’n engel skryf is dit ook my gedagtes rondom my siening wat ek neerlê. Soms verstaan ek myself ook weer beter nadat ek my eie skryfwerk gelees het en op skrif sien wat uit my gedagtes kom. Dan kan ek soms ook verstaan waar die gevoelens vandaan kom wat so in my ronddwaal.

Sommige mense sal sê as mens so sit en dink dat jy sit en ‘top’ oor iets. Ek beskou dit eerder as jy ‘verwerk’ ’n sekere gedagte of situasie. Hoe anders kan jy dan iets verstaan en reg hanteer as jy nie volkome daaroor gedink het uit alle moontlike rigtings nie? Ja, ek weet om so te sit en dink, veral as dit oor ’n probleem is, kan mens baie negatief raak. Veral as dit voel of jy nie antwoorde kan kry nie. Wanneer jy magteloos en hulpeloos voel. Asof alles net gebeur en daar is eintlik niks wat jy daaromtrent kan doen nie. Op daardie oomblik wil jy ook nie werklik met iemand daaroor praat nie omrede jy self nie weet wat om te sê nie. Ons almal was al daar en soms is dit moeilik om antwoorde so by jouself te kry. Soms help dit om te bid, maar soms weer is dit asof dit ook nie volkome genoeg is vir jou nie en dan bly jy maar net dink aan die situasie tot jy later aan so deurmekaar raak dat jy werklik nie antwoorde het nie. Dit is menslike natuur om so te voel. Ek dink ons skrywers sit meer so en dink as die mense om ons. Wil altyd oor amper alles skryf wat ons beleef en waaraan ons dink. Vorm idees in ons gedagtes en laat gaan weer daarvan ook. Dit is ons manier van praat met ander en die wêreld. As ons as mens deur die lewe gegaan het sonder enige bekommernisse of denke, glo ek nie sou ons werklik geweet het wat dit is om te leef nie. As alles net altyd goed gegaan het, sou jy nie die goeie tye na ’n slegte tyd kon waardeur nie. As ek so terugdink aan baie moeilike tye in my lewe en ek kyk dan na die goeie dinge wat daarop gevolg het, dan kan ek nie anders as om dankbaar te wees vir dit wat ek in my lewe het nie. En ek dink dit is baie belangrik om te verstaan dat baie dinge nie net vanselfsprekend is nie en ons opreg dankbaar moet wees daarvoor. Nou kom die vraag, maar waar pas ’n engel nou by alles in? Is ’n engel ’n hemel wese, of  iemand hier saam ons…

Soms as mens nie antwoorde het nie, kom gee iemand anders vir jou weer hoop en krag. Dalk nie deur ’n gesprek van woorde nie, maar soms ook net deur om daar te wees en vir jou ’n glimlag te gee waar jy besef, alles gaan reg uitwerk. Op daardie oomblik verander mens se gemoed sommer so en jy kan weer opstaan en aangaan. Al het jy nie op daardie oomblik die antwoorde op jou probleme gekry nie, het jy wel weer perspektief gevind om uit ’n ander oogpunt na dinge te kyk. Ek hoor in baie liedjies op sangers sing van ’n engel wat uit die hemel kom en hulle gebruik gewoonlik ook die woorde om ’n geliefde te beskryf. Mens besef dalk nie werklik daardie betekenis van die woorde nie tot en met ’n engel op jou pad kom. En as so ’n engel op jou pad kom en jy besef dit, ja dan moet jy dankbaar wees. Ook dan besef jy God se genade in jou lewe en jy besef ook dat Hy jou nooit alleen sal laat nie. God is altyd by ons en soms moet ons net om ons rondkyk om dit te besef. Daar is engele in hierdie wêreld. Of dit nou ’n engel in die vorm van ’n geliefde is en of dit ’n vreemde persoon is wat op jou pad kom en jou lewe totaal en al verander, hulle is daar. Ons moet soms regtig net om ons kyk en ons sal met verbasing kan sien hoe God in ons lewens werk. Ons aanvaar partykeer die mense om ons as vanselfsprekend en dat hulle maar net daar moet wees, maar wat as hulle nie daar was nie? Hoe sou jou lewe gewees het?

So was dit my idee om oor ’n engel te skryf. Net ’n idee om dankbaarheid te betoon aan die engele in my lewe. Of die engele om ons hemel wesens is of net doodgewone mense, daar is engele om ons, wees dankbaar daaroor…

Glo, Hoop en Vertrou

Vandag is dan ook weer nog ’n nuwe dag. Ons word wakker en begin ons normale roetines. Ek moet bieg dat ek die laaste week wat verby is ook bietjie “af” gevoel het en nie so positief was soos wat ek gewoonlik is nie. Die redes hiervoor is maar soos met alle normale mense, ’n tyd by die werk wat dit moontlik bietjie druk gaan en die laaste bietjie fisiese energie uit jou uitgetap word. Dan skeep jy dalk bietjie jouself af en begin simptome van stres wys. Sonder dat jy besef gaan jy stadig maar seker in ’n trant in van moeg opstaan en nie lus is om werk toe te gaan nie. Dan ook begin jy vergeet hoe dankbaar jy werklik moet wees vir alles wat jy het en kry. En skielik besef ek dit…

Ek dink dit gebeur ook so met alle mense en nie bloot oor die feit dat ons as mense soms voorspelbaar kan wees nie, maar deur die blote feit dat ons mens is. Ons is nie hemelwesens wat altyd sterk kan bly nie en ons moet aanvaar dat menswees saam die swakheid van menswees gaan. En dan ook weet ek almal is nie sterk genoeg om hulself weer uit so ’n oomblik uit te trek en weer op te staan en positief aan te gaan met jou lewe nie. Daarom is daar soveel om voor dankbaar te wees want ons het ’n God wat ons help en leiding gee. Ons bid tot Hom en vra vir krag en antwoorde. Ons bid vir genade en ons glo en vertrou. En dan vir die wat nie dit besef nie, gee God dalk iemand op jou pad om jou te laat onthou jy het soveel om voor dankbaar te wees. En dan op daardie oomblik kan jy weer met dankbaarheid op jou knieë gaan en so weer begin leef as die mens wat jy is en moet wees. ’n Mens gemaak en gevorm deur God, om Hom te loof en te prys en verheerlik deur alles wat ons doen.

Ek hou daarvan om positiewe skryf stukke oor die lewe te skryf en mense te help. Ek is moontlik dalk ook ’n gereedskap stukkie in hierdie wêreld wat bietjie vir bietjie herstelwerk doen. Ek skryf nie sommer oor christenskap nie en eerder oor positiewe dinge wat ek uit die lewe uit ervaar. Ek was bang om oor die Bybel te praat en van God te praat in van my skryfwerk omrede ek weet soveel mense gaan sommer daar en dan dalk ophou om my goedjies te lees. Dit is nie almal wat lus is vir nog ’n preek uit die Bybel as hulle af voel nie en soms lees mense my skryfwerk wat hoop en geloof verloor het. Ek wil nie daardie tipe mense afsit nie, want ek wil so graag my positiewe boodskap by almal deurbring. Ek wil so graag hê dat die klein bietjie wat ek uit my lewe uit deel, iemand anders ook kan help en positief maak.

En dit wat ek skielik dan vanoggend besef het… Ek word gelei deur ’n Almagtige God wat my inspireer en die talente gegee het om alles te doen wat ek doen. Hy het my gevorm in die mens wat ek is en deur Sy genade kan ek ’n positiewe deel bydrae tot die wêreld. Vir almal van julle wat hoop, moed of geloof verloor het wil ek graag ’n boodskap deurgee vandag. Daar is hoop en daar was nog altyd. Maak jou hart oop, maak jou gedagtes skoon. Kyk met geloofsoë na bo en aanvaar waar jou hulp vandaan sal kom. Dan en alleenlik dan, sal jy vrede hê en voluit kan lewe. Dan sal jou probleme nie meer so groot lyk nie en jy sal antwoorde kry. En onthou die belangrikste van alles, “ons is mens, ons maak ook foute,” ons almal doen. Moenie dat iets kleins so groot word en jou in die grond in aftrek nie. Jou probleme lyk dalk nou vreeslik en onoplosbaar, maar ek verseker jou dat daar altyd ’n weg is. Glo, hoop en vertrou…

 

My Badkamer Deur

Vanoggend toe ek wakker word nadat my wekker afgegaan het, staan ek op soos gewoonlik en wil kombuis toe gaan om die ketel te gaan aansit. Die kamer was nog effens donker en ek doen toe ook nie moeite om my oë heeltemal oop te maak nie. Ek ken mons die pad kombuis toe en uit gewoonte uit weet ek presies waar staan wat en loop om en oor die normale dingetjies in my plekkie. Maar vanoggend gebeur iets heeltemal anders met my. Ek voel iets hards voor my waarin ek vasloop en ’n dowwe klank van ’n deur wat nie verder kan oop as wat dit reeds is nie. Dit was die badkamer deur. Met ’n skok is ek nou heeltemal wakker en besef die deur was oop nadat ek dit gisteraand nog self oopgestoot het. So besef ek dan ook dat ek maar eerder my oë moet heeltemal oopmaak voor ek so probeer rondloop in my plekkie. Al ken ek die plek en weet waar alles is, kan daar tog ietsie uit plek uit wees en as ek nie gaan kyk wat ek doen dit nie, kan ek dalk seerkry of selfs iets breek…

Maak ons nie dalk partykeer in ons lewens ook so nie. Loop ons nie maar deur die lewe uit gewoonte met ons oë toe in ons daaglikse roetines sonder om rondom ons te kyk wat om ons aangaan nie. Ons is so doelgerig en weet wat ons moet doen dat ons net op die paadjie bly wat ons dag na dag stap. Loop elke dag op dieselfde ou roetine omrede ons dit ken en dat dit so gemaklik is om nie te verander nie. En dan as ons ook ons oë soms toe maak dan sien ons nie as daar iets voor ons op die pad kom nie en dan eers as dit te laat is “daarin vasloop,” dan besef ons eers daar is iets vreemds aan die gang. Soms kan dit moeilikheid wees of selfs iemand anders wat in moeilikheid is, maar nou is ons daarin en dit is amper te laat om te voorkom. Nou moet jy dit maar hanteer en uitsorteer waar jy dit dalk kon vermy het. Ek dink ek self is partykeer skuldig hieraan. Veral in my werk. Ek weet mons wat ek doen en ken my werk nou al so goed dat ek dit uit roetine uit kan doen. Is dit dan reg? Moet ons nie eerder waaksaam wees ten alle tye vir iets vreemds of anders wat op ons pad kan beland nie? Net soos daar iets slegs op ons pad kan wees, kan daar dalk ook iets goeds op ons pad kom en as ons oë uit gewoonte uit toe is, gaan ons dalk ’n geleentheid mis. Dalk moet ons as mens net partykeer bietjie uit ons roetines uit beweeg en net iets anders doen. Dalk is dit om iets goeds vir iemand te doen of selfs net iets goeds vir jouself. Maak nie saak hoe goed ons dink ons, ons paadjie ken nie, daardie paadjie word tog op die ou einde nie deur ons bepaal nie, maar deur ons Hemelse Vader. Sien ons nog wat Hy wil hê ons moet sien of is ons oë uit gewoonte maar toe?

So ook kan iets eenvoudig soos ’n deur wat oopstaan jou lewe verander. Die oop deur het my beslis laat dink vanoggend. Ek hoop my badkamer deur het nie net vir my iets gewys nie, maar dat iemand anders die oomblik saam my sal verstaan en beleef soos ek. Dit mag dalk iets kleins en eenvoudig wees, maar ek hoop die stukkie inspireer iemand anders ook soos wat ek geïnspireerd was om dit te skryf.

 

Avontuur

Wat gaan deur jou gedagtes as ek die woord avontuur noem? Wat is jou siening van ’n avontuur? Is jy ’n avontuurlustige persoon of verkies jy dalk die ligeter dingetjies in die lewe…

Elke mens het maar ’n ander siening oor wat avontuur is. Vir party van ons is net ’n rustige stappie tussen die berge alreeds ’n groot avontuur. Vir ander moet daar bietjie iets waaghalsig aan betrokke wees om dit ’n avontuur te noem. Net so is die lewe ook eintlik een groot avontuur waarop ons is. Ons is almal op ons eie manier van ’n avontuur en so bepaal ons siening van avontuur ook hoe jy jou lewe leef. As jou siening van avontuur rustig is, is dit heel waarskynlik dat jy ’n rustige lewe sal handhaaf. As jy so nou en dan iets waaghalsig sal aanpak, is dit ook moontlik dat jy in die lewe so nou en dan ’n waagkans sal vat. As jy totaal en al vir aksie en adrenalin leef, het jy moontlik ook ’n baie besige en aksie volle lewe. So ook is dit belangrik om mekaar en ander se manier van lewe te probeer verstaan. Ons almal kan nie dieselfde wees nie en ons almal kan nie kanse waag nie. Ons het tog die versigtige mense ook nodig in die lewe en dan vir ander gebiede is die kansvatters weer voor om rigting te gee. Die groot geheim is om jouself dalk te verstaan en te bepaal watse tipe mens jy is. Dan kan jy self besluit op watter pas om aan te gaan en so ook die regte avontuur vir jou te kies. Iemand wat nou glad nie van die natuur hou nie en eerder binnehuis sal wil wees gaan tog dan nie elke naweek op ’n staptoer of bergklim ekspedisie nie. Hoekom dan as jy ’n rustige persoon is en stilte verkies sal jy dan uitgaan en partytjies hou tot laat aan waar lawaai en goed is waarvan jy niks hou nie? En nou net soos jy jouself dan kan verstaan, moet jy ook leer om ander om jou te begin verstaan. Weereens moet ek sê ons is nie almal dieselfde nie so ons gaan almal ander dinge hê waarin ons belangstel en wil tyd aan spandeer. Dit mag ook nou heel moontlik klink of ek nou net op ’n avontuur van skryf is en nie ’n punt het nie, maar eintlik is die kort skryfstuk van my vinnig tot op die punt wat ek probeer maak.

Dit wat jy in jou gedagtes en in jou lewe as avontuur beskou, is nie noodwendig vir ’n ander persoon ’n avontuur nie. Respekteer ander en leer om te verdra, te probeer verstaan en so kan die wêreld weereens ’n stappie nader kom aan ’n beter plek wees, vir ons almal.