Tag: liefde

Vrae

’n Gedagte veldtog. ’n Innerlike struweling na antwoorde. Vrae wat gevra word aan jouself. Waar en wanneer sal jy tog antwoorde kry?

Hier waar ek sit en skryf, het ek soveel worstelinge met gedagtes in my binneste. Ek het soveel onverklaarbare vrae wat ek nie verstaan nie. En hoe dan nou as jy die vrae nie verstaan nie sal jy kan antwoorde kry? Ek dink ek het vrae wat ek aan myself vra wat ek nie gedink het ooit hoef gevra te word nie. Soveel te meer weet mens soms nie werklik wat die punt is om so te sit en vrae vra op dinge wat jy weet jy nie gaan antwoorde sal vind nie.

Waarheen vat die gejaag van die lewe ons dan nou? Waar gaan ons op eindig en is dit dan die werklike doel waarvoor ons bestem is. Ek wonder die afgelope tyd baie oor my “doel” in die lewe. Ek hoor so baie mense praat en sê dat jy ’n doel hier op aarde het en dat jy volgens daardie doel moet lewe met alles in jou. Jy moet strewe om in daardie doel te volhard. Maar hoe weet jy dat die doel wat jy najaag, die doel is wat jy moet in volhard. Ons bid en vra vir rigting, maar luister ons werklik vir antwoorde of het ons in ons gedagtes klaar besluit wat ons doel is? Ek dink so aan wat ons elke dag sit en doen. Ons sit by die werk en soms ook net omdat ons moet werk en geen ander keuse het nie. As mens nie werk nie bewerkstellig jy jou eie ondergang in vandag se lewe. As jy nie werk nie kan jy hoegenaamd niks doen nie. Dit bring my nou by die groot woord “geld”. Dit is tog hoekom ons werk. As jy nie geld het nie, kan jy nie funksioneer nie. Veral nie in vandag se lewe waar geld die wêreld regeer nie. Ja, ek sê dit weer want dit is hoe ek dit sien. Geld regeer die wêreld! En as ek sê die wêreld bedoel ek die mens daarby. Geld kan mense dryf om amper enige ding te doen. Geld laat jou werk. Geld laat mense steel. Geld laat mense moor en so kan ek aangaan. Wat ’n mens nie alles vir geld sal doen nie…

Ek dink dat geld die mens se doel hier op aarde kom verdoesel het. Ek dink geld maak mense blind om nie jou werklike doel in die lewe te kan raaksien nie. Dink net hoe die wêreld sou wees as jy geld laat verdwyn en dit met liefde kan vervang. As al waarvoor jy werk vir liefde is. As al wat mens nodig gehad het liefde was. Net liefde! Jy sou soveel liefde gehad het, dat jy uit liefde vir die wat nie het nie sou gee. Jy sou soveel liefde gehad het dat jy nie ander sou wou leed aandoen nie. Uit liefde uit sou jy nie ander ingedoen, verskree en sleg behandel het nie. Hoekom moet mens dan so hard werk vir geld? Hoekom moet ons so baie tyd opgee en familie en vriende eenkant toe skuif sodat ons kan werk vir geld? En hoekom as jy dit besef en probeer ’n verskil maak, word jy vertrap en vernietig? Is daar dan al hoe minder plek in ons ou wêreld vir liefde en vrede?

Ja, soveel vrae sonder antwoorde. Ek skryf maar terloops. Ek vra maar die vrae. Of ek ooit antwoorde gaan kry, dit sal ek nie weet nie. Of ek ooit die mens sal kan verstaan, dit weet ek nog minder. Is dit wat ek skryf dalk my doel op aarde? Wie weet?

Advertisements

Onthou weer opnuut…

Dit is baie moeilik om te skryf as mens se gedagtes te besig is met dinge soos werk en jou daaglikse dingetjies. Soms raak mens so besig dat dinge net te vinnig by jou verbysnel. So het ek ook die afgelope tyd so besig geraak met nuwe uitdagings in my lewe en glad nie by skryf uitgekom nie. My lewe het aansienlik in ’n gejaag verander met veranderinge by my werk en dan het ek daarmee nog ’n besering opgetel en kan glad nie hardloop vir ’n ruk nie. Die wat my ken sal verstaan dat dit vir my  ’n groot frustrasie is om nie te kan hardloop nie en ek dink die swaarste gevoel nog was om te aanvaar dat ek nie nou kan hardloop nie. Soos dinge om my verander en met my verander is daar verskeie aanpassings wat ek moet maak elke dag. Ek moet sê in die begin van die maand het dit maar dol gegaan en ek het baie gesukkel om by te bly. Soms het ek negatief gevoel en ander tye net doodmoeg. Ek dink ek is nog nie eenhonderd persent gewoond aan die tempo waarteen my lewe nou verbygaan nie, maar ek moet sê dat dit al klein bietjie beter gaan .

Ek het al baie geskryf dat almal die lewe moet rustig vat en nie vervalle raak in die gejaag van vandag se lewe nie. Dit was soms ook vir my maklik om  daaroor te skryf omrede ek meer tyd gehad het om rond te kyk en die mooi dinge om my raak te sien. So besef ek ook dat ek self die laaste ruk amper in daardie slaggat geval het van die gejaag van die lewe. Ek dink dit is belangrik om op ’n punt te kom waar mens besef jy moet nou bietjie stadiger. Ek is baie dankbaar vir die wonderlike lewensmaat wat God vir my in my lewe gegee het, wat by my bly staan en my soveel moet inpraat. Sy is so ’n wonderlike mens en ek het nie genoeg woorde om te sê hoe dankbaar ek vir haar is nie. Soms is dit die mense om jou wat jou aan die gang hou en jou moet gee om voort te gaan. Ek het Sondag so in die kerk weer besef dat mens nie moet toelaat dat aardse dinge jou lewe so oorneem dat jy nie meer genoeg tyd het vir God en jou geliefdes nie. Liefde is ’n baie groter skat op hierdie aarde om bymekaar te maak as goud en silver. Dit is maar moeilik om dit altyd te onthou want ons is maar mens en ons is swak.

Ek wil vandag net vir ieder en elk her hinder om tyd te maak om lief te hê. Om tyd te maak om daar te wees vir die wat jou nodig het. Ons as mens weet nie hoe lank ons bestem is om hier op aarde te wees nie en dit is baie noodsaaklik om elke oomblik ten goede te benut en jouself nie met die negatiewe dinge van ’n sondige wêreld te moet ophou nie. Ek hoop dat almal wat my stukkie lees opnuut sal asem skep en net weer besef waaroor die lewe werklik gaan.

Die Sonsopkoms

Die sonsopkoms simboliseer die begin van ’n nuwe dag. So ook begin weereens ’n nuwe dag dan in my lewe vandag. Ek kan nie help om net ’n gevoel van dankbaarheid te ervaar vir alles om my en in my lewe nie. Dit is party dae vir ons as mens so vanselfsprekend dat die son sal opkom en ons nog ’n dag gaan deurgaan. Of dit nou ’n dag by die werk is of dalk by die huis. Of dit nou ’n weeksdag is of ’n naweek. Ons weet die son kom op.

Tog is dit nie vir almal so nie. Ons besef dit dalk nie of laat ek eerder sê, ons wil nie so daaraan dink nie. Daar is mense wat nie die son sien opkom nie. Mense wat dalk deur die nag hulle laaste asem gaan uitblaas. Mense wat nie daardie kans kry om op te staan en ’n nuwe dag te begin nie. Ons het Sondag in die kerk so ’n mooi preek beleef waar die dominee ook gepraat het van jy moet jou hart vir die Here gee, want jy weet nie of jy môre nog kans gaan hê om dit te doen nie. Soveel mense stel iets uit en sê ek sal dit môre doen, maar hoe weet jy dat jy môre gaan sien? Ek self is skuldig hieraan en dit is goed om so nou en dan opnuut te her hinder word van watse groot seën dit is om in die oggend jou oë te kan oopmaak.

Wees nederig. Leef in dankbaarheid. Sê gereeld vir die mense wat jy lief het hoe lief jy hulle het. Die sonsopkoms simboliseer opnuut ’n nuwe dag in my lewe en ek is dankbaar vir elke een.

 

Stilte na die storm

Ek het al baie gehoor dat iemand praat van die stilte na die storm. Spreekwoordelik word die uitdrukking gebruik na ’n moeilike tyd of bakleiery wat net ewe skielik stop en alles is verby. Dit is dan ’n tyd waar jy terug kyk na alles wat gebeur het en net bly is als is verby. Op daardie stadium is dit waar jy moet begin alles weer bymekaarsit en regstel wat deur die storm vernietig is. Wel, ek sit nou so en dink aan die verloop van my lewe. Ek dink ook terug aan al die dinge waardeur ek gegaan het en na waar ek nou vandag staan. Ek dink ek kan amper sê dat my lewe ook maar baie stormagtig was en met tye as ek gedink het die wind gaan nou lê, dan tel dit maar net weer op en die verwoesting gaan aan. So ook het ek in hierdie storm geleer om skuiling te kry en te oorleef. Die storm wat so aan gewoed het, kon my nie breek nie en ek het oorleef. Die storm het my sterk gemaak. So ook het die storm bedaar na ’n baie lang tydperk. Ek kon daarna weer terug kyk na alles wat voor my lê en rustigheid ondervind. So ook het ek bietjie vir bietjie begin om die skade wat die storm veroorsaak het te herstel. Ek het myself gevind, weer begin skryf en hardloop en net myself weer opgebou na die persoon wat ek wou wees. So ook na elke storm lê daar bome, takke en blare die wêreld vol. Dit is dan wat jy maar moet begin skoonmaak en alles weer mooimaak en op hul plek kry. Die tyd waar jy weer kan begin droom oor hoe dit kan lyk. Dan so terwyl jy al die gemors begin skoonmaak, kom jy op ’n punt waar jy weer lewe sien. Een blommetjie of blaartjie wat die storm oorleef het en soos wat die son dan nou uitkom begin blom en ’n teken van lewe en hoop gee. Ek voel tans het ek nou daardie teken van lewe gesien. Ek is vir ’n oomblik rustig, het soveel vrede en staar net in bewondering na die teken van nuwe lewe. Dit is so in ’n oomblik waar jy nie verwag het om lewe te sien nie en dan ewe skielik is dit daar voor jou. Dit is ’n oomblik wat jy besef, alles gaan weer goed wees. Jy maak alles om die blommetjie skoon. Gee water en versorg die blommetjie en bewonder dit dan dag na dag soos wat dit begin groei en mooier en mooier raak met tyd. Op daardie oomblik kry jy werklik weer motivering om die blommetjie in ’n blomtuin te verander. Dit is iets wat nie oornag kan gebeur nie en met tyd, geduld en omgee sal die blomtuin geskep word. So ook met die kennis van die storm wat alles voorheen vernietig het, kan jy dan ook nou reg voor bery en die nodige skuiling en beskerming bou sodat as daar weer ’n storm moet kom, jou blomtuin beskermd sal wees en geen storm ooit weer dit kan vernietig nie. Ons as mens gaan deur die lewe en daar gebeur baie dinge met ons. Ek het al baie mense uit moedeloosheid hoor sê, maar hoekom gebeur al die dinge met my? Hoekom kan dit nie net vir ’n slag goed gaan met my nie? Ek dink ek self het ook al baie so gevoel, maar as ek nou so tot die besef kom dat as gevolg van alles wat gebeur het, kan ek nou opreg die goeie dinge in my lewe waardeur. Ek sal weet om dit wat ek nou het te versorg en goed op te pas. Ek gaan die nodige kennis hê om dit wat ek nou kry te versorg en op te pas en te beskerm teen die storms daar buite. Die stilte na die storm is nie noodwendig die mooiste oomblik in jou lewe nie, maar dit is moontlik die begin tot ’n nuwe hoofstuk in jou lewe waar jy half van vooraf kan begin om alles reg te maak en op te bou, selfs beter as wat dit voorheen was voor die storm. En dan, as jy daardie eerste teken van lewe weer sien dan weet jy, alles gaan weer goed wees. Daar is altyd hoop. Wees sterk in die tye waar storms woed en gebruik elke oomblik om kennis op te bou in jou lewe. Weet dat die storm weer sal oorgaan en jy stilte sal vind. Gebruik dan die kennis wat jy gekry het om in hierdie stilte te herbou en dan as jy daardie teken van lewe sien, gee jou alles om dit te bewaar. Ek hoop dat my lewe, my skryfwerk en drome nog vele meer mense sal inspireer in die lewe. Ek hoop dat ek dalk ook vir iemand wat tans ’n storm beleef bietjie hoop kan gee. Wees sterk want daar is ’n doel met alles in die lewe.

 

FANTASIEË

 

 

Fantasieë gebaseer op drome,

nie altyd vir almal beskore.

Dag na dag gaan ons aan met die lewe,

nie altyd soos wat almal na strewe.

 

Soms gaan daar dinge verlore,

maar opnuut word weer iets gebore.

Daar is altyd hoop vir jou,

moet nooit een dag berou.

 

Môre kom opnuut met ’n belofte,

dalk nog ’n sonskyn dag gelofte.

Vandag moet ons leef,

elke oomblik beleef.

 

Vrees nie die toekoms vir nou,

want liefde bly tog getrou.

Dit sal jou eendag vind,

soms kom dit saam die wind.

 

Fantasieë, drome en alles daarmee saam,

dit wys jou ook die pad om op te gaan.

Volg jou hart en voel dit nou,

eendag kom dit ook vir jou.

 

 

Bang vir Liefde

“Não consigo parar de pensar em você.”

Ek kan nie anders as om aangetrokke te voel tot die Portugese taal en hoe dit klink as hulle iets baie romanties sê soos die woorde hier bo aangehaal. Vandag is dit dan ook so maklik om gou op Google te gaan soek na wat dit beteken en dit is amper moontlik om enige woorde in enige taal in te vertaal deur die frase in te sleutel en te vra vir ’n vertaling.

So ook glo ek baie mense het klaar die frase hier bo probeer opsoek en weet dus wat die betekenis is. Vir die van julle wat nou so geduldig was om eers vêrder te gelees het gaan ek die verduideliking gee.

“Ek kan nie ophou om aan jou te dink nie.”

Ja en dan is dit ook die tema van hierdie woordverwerking van my. Wat maak jy as jy so van iemand hou dat jy nie kan ophou om aan haar of hom te dink nie? Is dit dan ook moontlik om so van iemand te hou, wat jy nie werklik persoonlik ken nie, maar meer in die sin van sien en hoor van haar of hom en jy het net so gevoel dat jy meer wil weet van daardie persoon. Ek weet elke persoon het sy eie manier van doen en daar is die mense wat nou vir my sal sê dat dit eenvoudig is. As jy van iemand hou en die persoon beter wil leer ken, moet jy dan ook met die persoon begin praat en so sal jy haar of hom beter leer ken.

Om nou dood eerlik te wees met julle, ek is nie daardie persoon wat net sommer besluit ek hou van iemand en dan begin ek ’n gesprek met haar nie. Dit was nog altyd vir my moeilik gewees om daardie eerste woorde uit te spreek. Net daardie maklike en simpel woorde van, “wil jy dalk saam my iets gaan drink?”

“Você pode querer algo ir beber o meu?”

Klink soveel beter in Portugees… Maar ja maak nie saak in watse taal ek dit stel nie, die ‘doen dit’ deel is die probleem. Ek is werklik deur baie in hierdie harde lewe van ons en soms wonder ek of die dinge wat in my lewe gebeur het, waaruit ek soveel kan en moet leer, my nie soms te versigtig maak vir dinge wat moontlik kan wees nie. Ek meen, waar en wanneer kan mens tot die gevolgtrekking kom dat jy bietjie te oorversigtig is en dit jou baie van die lewe se wonderlike dinge laat uit mis? Daar is ’n gesegde, wie nie waag nie sal nie wen nie, maar hoe waag mens as jy bang is om te verloor? Nou sal jy dalk vir my vra, maar wat het jy om te verloor? Wel, dit is die groot probleem. Ek het oor die jare myself verloor en is tans net besig om myself weer te vind vir wie en wat ek is. Dit kan so maklik gebeur om jouself te verloor in ’n verhouding en in so mate in ’n persoon te verander wie nie werklik jy is nie, net om te probeer pas by ’n ander persoon. En ja ek weet almal sê altyd dat jy nie jouself moet verander om by ’n ander persoon te pas nie, maar tog gebeur daardie verandering. Dit is nou net ’n feit dat mense mekaar verander. Partykeer ten goede, maar dan is daar die gevalle waar jy jouself verloor en verval in iemand wat jy nie wil wees nie. Hoe keer jy dit? Ek weet nie en dit is hoekom ek bang is.

Ek is seker dan ook nie die regte persoon wat enige iemand liefdes advies kan gee nie, maar glo my ek kan dinge oor die lewe vertel wat jy nie sal glo nie. Ek het baie gesien en beleef in my lewe en dit het my dan ook die kennis gegee wat ek het en ek deel dit graag met die mense wat belangstel om te luister. Dit is goed om jou hart te volg in die lewe en alles in te sit, maar onthou asseblief net een ding. Volg jou hart en hou jou oë ook oop. As jy moet begin toe-oë deur die lewe gaan om jou hart gelukkig te hou, is jy besig om jouself te verloor.

So ook gaan ek seker nog vir dae aan een sekere dinge eers goed deurdink met die hoop op antwoorde. Ek sal seker maak wat ook al ek besluit om te doen nie my menswees sal verander nie. Dit is so maklik om die verkeerde besluite te neem in vandag se deurmekaar wêreld, maar as jy net gefokus bly, sterk kan bly en geluk nastreef op ’n manier dat jy nie jouself hoef prys te gee nie, dan sal jy vind wat jy nodig het. Ja en dalk dan vind mens die ware en werklike betekenis van liefde…

Innerlike Konflik

Kyk haar in die oë en sê dit net vir haar! Makliker gesê as gedaan, per spreekwoordelike taal gestel nou. Hoe kan mens ooit die liefde verstaan? Hoe benader jy die liefde as jy eintlik bang is daarvoor? Hoe benader jy dit as jy nie weet of dit werklik bestaan of bestem is nie? Vir jou altans…

So begin ’n redenasie met innerlike emosies en ek bevraagteken myself. So weet ek aan die een kant wat ek wil doen, maar moet ek? Met elke antwoord kom dan ook ’n vraag. Sake van die hart is nie so eenvoudig nie. Veral as die spesifieke hart al soveel seer moes deurmaak. Tog besef ek, as ek nie gaan probeer nie, gaan ek nooit weet nie. Maar dan wat as dit weer in ’n katastrofe uitdraai? Nog ’n vraag op ’n antwoord! Hoe lank gaan die redenasie dan tog met myself aangaan? Konfrontasie, teenstand, wroeging, als sinonieme vir wat ek deurgaan op die huidige oomblik.

Dit voel vir my so asof om lief te word vir iemand, jy jou vryheid prysgee daarmee saam. Dan is die volgende vraag ook nou, is jy werklik vry as jy niemand het om die vryheid mee te deel nie? Een van my vriende sê toe ook vir my in die week, jy weet wat jy moet doen, staan op en doen dit! Vir ’n oomblik daar het ek gedink ek het die antwoord en ek gaan dit doen. Vyf minute later… nog net meer twyfel as ooit tevore.

Hoe dan nou? Hoe sê ek dit? Ek soek die regte woorde, die regte oomblik, die regte alles, maar ek soek en soek sonder om te vind waarna ek soek. Weet ek self ooit waarna ek soek? Nee ek glo nie. Ek hardloop weg. Nie van my verlede af nie, maar van ’n moontlike toekoms. ’n Toekoms van nie alleen wees nie. ’n Toekoms van vreugde, vrede en liefde. Maar sal dit wees wat ek dink dit sal wees, of gaan dit net mooi die teenoorgestelde word? Van vreugde na droefheid, van vrede na konflik, van liefde na verwyte?

Ek skryf dan ook nou om te sien of ek myself beter verstaan op papier. Ek probeer ’n refleksie van emosie weerspieël en daarna kyk met die hoop op antwoorde. Wie weet, dalk gee ek iemand anders antwoorde deur my siening rond te gooi. Dalk trap die regte persoon op my sienings wat ek so ongeorden rondgooi en dit kry ander vorm. Beter vorm, vorm wat dalk sin maak. Iets wat ek kan verstaan…

Maar dan ook nou, wie verstaan die liefde dan nou…