‘n Engel

Soms het ek ’n gevoel wat ek kry van ‘lus wees’ om te skryf, maar sodra ek agter my rekenaar kom sit kan ek nie aan die gang kom nie. Ek het ’n idee om van ’n engel te skryf maar weet nie waar om te begin nie…

Ek het so baie dinge om te sê, maar weet nie altyd hoe om dit te verwoord nie. So asof my gedagtes net nie in woorde gevorm kan word nie, maar tog verstaan ek dit. Dan soos wat ek begin tik en die klank van die knoppies hoor, ja dan begin ek weer rustig raak en begin al hoe vinniger en vinniger te tik. So begin ek vervoer raak in ’n wêreld van gedagtes op skrif sit sonder dat ek werklik op die skerm kyk wat ek tik. Die begin van ’n nuwe skryfstuk gevorm uit unieke gevoelens en drome wat ek beleef in my eie wêreld. Ja so ook kan ek dan myself uitdruk en ook probeer iets van myself weergee. En al wil ek oor ’n engel skryf is dit ook my gedagtes rondom my siening wat ek neerlê. Soms verstaan ek myself ook weer beter nadat ek my eie skryfwerk gelees het en op skrif sien wat uit my gedagtes kom. Dan kan ek soms ook verstaan waar die gevoelens vandaan kom wat so in my ronddwaal.

Sommige mense sal sê as mens so sit en dink dat jy sit en ‘top’ oor iets. Ek beskou dit eerder as jy ‘verwerk’ ’n sekere gedagte of situasie. Hoe anders kan jy dan iets verstaan en reg hanteer as jy nie volkome daaroor gedink het uit alle moontlike rigtings nie? Ja, ek weet om so te sit en dink, veral as dit oor ’n probleem is, kan mens baie negatief raak. Veral as dit voel of jy nie antwoorde kan kry nie. Wanneer jy magteloos en hulpeloos voel. Asof alles net gebeur en daar is eintlik niks wat jy daaromtrent kan doen nie. Op daardie oomblik wil jy ook nie werklik met iemand daaroor praat nie omrede jy self nie weet wat om te sê nie. Ons almal was al daar en soms is dit moeilik om antwoorde so by jouself te kry. Soms help dit om te bid, maar soms weer is dit asof dit ook nie volkome genoeg is vir jou nie en dan bly jy maar net dink aan die situasie tot jy later aan so deurmekaar raak dat jy werklik nie antwoorde het nie. Dit is menslike natuur om so te voel. Ek dink ons skrywers sit meer so en dink as die mense om ons. Wil altyd oor amper alles skryf wat ons beleef en waaraan ons dink. Vorm idees in ons gedagtes en laat gaan weer daarvan ook. Dit is ons manier van praat met ander en die wêreld. As ons as mens deur die lewe gegaan het sonder enige bekommernisse of denke, glo ek nie sou ons werklik geweet het wat dit is om te leef nie. As alles net altyd goed gegaan het, sou jy nie die goeie tye na ’n slegte tyd kon waardeur nie. As ek so terugdink aan baie moeilike tye in my lewe en ek kyk dan na die goeie dinge wat daarop gevolg het, dan kan ek nie anders as om dankbaar te wees vir dit wat ek in my lewe het nie. En ek dink dit is baie belangrik om te verstaan dat baie dinge nie net vanselfsprekend is nie en ons opreg dankbaar moet wees daarvoor. Nou kom die vraag, maar waar pas ’n engel nou by alles in? Is ’n engel ’n hemel wese, of  iemand hier saam ons…

Soms as mens nie antwoorde het nie, kom gee iemand anders vir jou weer hoop en krag. Dalk nie deur ’n gesprek van woorde nie, maar soms ook net deur om daar te wees en vir jou ’n glimlag te gee waar jy besef, alles gaan reg uitwerk. Op daardie oomblik verander mens se gemoed sommer so en jy kan weer opstaan en aangaan. Al het jy nie op daardie oomblik die antwoorde op jou probleme gekry nie, het jy wel weer perspektief gevind om uit ’n ander oogpunt na dinge te kyk. Ek hoor in baie liedjies op sangers sing van ’n engel wat uit die hemel kom en hulle gebruik gewoonlik ook die woorde om ’n geliefde te beskryf. Mens besef dalk nie werklik daardie betekenis van die woorde nie tot en met ’n engel op jou pad kom. En as so ’n engel op jou pad kom en jy besef dit, ja dan moet jy dankbaar wees. Ook dan besef jy God se genade in jou lewe en jy besef ook dat Hy jou nooit alleen sal laat nie. God is altyd by ons en soms moet ons net om ons rondkyk om dit te besef. Daar is engele in hierdie wêreld. Of dit nou ’n engel in die vorm van ’n geliefde is en of dit ’n vreemde persoon is wat op jou pad kom en jou lewe totaal en al verander, hulle is daar. Ons moet soms regtig net om ons kyk en ons sal met verbasing kan sien hoe God in ons lewens werk. Ons aanvaar partykeer die mense om ons as vanselfsprekend en dat hulle maar net daar moet wees, maar wat as hulle nie daar was nie? Hoe sou jou lewe gewees het?

So was dit my idee om oor ’n engel te skryf. Net ’n idee om dankbaarheid te betoon aan die engele in my lewe. Of die engele om ons hemel wesens is of net doodgewone mense, daar is engele om ons, wees dankbaar daaroor…

Leave a comment