MY DROOM

Eendag lank-lank gelede was daar ’n droom. ’n Droom wat gedroom was deur ’n dromer. ’n Droom wat gegaan het oor die toekoms, ’n droom oor vandag…

Is dit nie maar hoe alle feeverhale begin nie. Net jammer dat die werklike lewe nie altyd soos ’n feëverhaal werk nie. Het ons almal nie daardie droom wat eendag lank-lank gelede begin het nie? Het jy dalk so ’n droom gehad, maar met tyd het jy besef dit sal nooit gebeur nie? Drome word tog nie waar nie, of doen dit?

Ek weet nie of dit is as mens ouer word, besef jy al hoe meer dat jy nooit op ’n droom moes opgegee het nie. Hoeveel mense gebruik die woorde, as ek maar net daardie tyd geweet het wat ek nou weet, sou ek dinge anders gedoen het. Hoekom dit nou eers besef? Hoekom het jy nie daardie tyd toe jou droom nog vars was en moontlikheid gehad het daaraan gebou nie? Hierdie is alles vrae wat mens kan stel, maar daar gaan nooit werklik antwoorde wees nie. Ek dink baie mense leef met ’n paar groot “hoekom” vrae in hulle lewe.

Hier is ek vandag as 34 jarige man in die wêreld. Ek het ook drome gehad en het ook baie van daardie “hoekom” vrae. Al wat ek nou kan sê, en dit is net my ondervinding en opinie, is dat dit nooit te laat is om aan ’n droom te begin bou nie. Mens het dalk nou baie meer ondervinding om so ’n droom ’n groot sukses te laat uitdraai. Ek het in my laerskool dae vir my een juffrou gesê dat ek graag eendag ’n skrywer sal wil word. Dit was op daardie stadium ’n droom wat ek gehad het, maar op so ’n jong ouderdom het ek nie die kennis gehad om aan die droom te bou nie. Ek dink ook as mens jonk is, het jy ook nie genoeg passie en visie om jou drome werklik  na te volg nie. Daar is soveel ander dinge wat jou aandag af trek en jy jou tyd aan toewy as jy jonk is. ’n Ander aspek moontlik was dat ’n beroep as skrywer nie op daardie stadium as ’n ernstige beroep beskou was deur die mense om my nie. Dit was meer van, ja seun ons hoor jou, maar wat wil jy as ’n beroep doen. Als is goed en wel dat jy ’n skrywer wil word, maar jy moet ’n beroep kies. En so was die eerste stap geneem ter vernietiging van ’n jong seun se droom.

Soos die jare verbygegaan het en ek in die Hoërskool op geëindig het, het ek die gedagte laat vaar om ’n skrywer te word, maar tog nooit opgehou skryf nie. Ek het verskeie penvriende gehad en was baie lief daarvoor om briewe te skryf. Soms het ek gedigte geskryf en ook kort stories. Stories oor my lewe, stories oor ander, maar ek het daarvan gehou om te skryf. Die lekkerste was om oor drome te skryf en kyk nou, hier skryf ek nog steeds oor drome. Ek het ook met tye in Engels en Afrikaanse klasse met opstelle goeie punte behaal. Ek het een dag ’n storie geskryf in ’n eksamen opstel wat die onderwyseres stom geslaan het. Sy het na my toe gekom en gesê sy kon nie glo dat ek so kan skryf nie. Tog het niemand besef ek kan skryf en dat ek ’n goeie skrywer sou kan word nie, of hulle wou dit dalk net nie so sien nie. Op Hoërskool word jy vir aanleg getoets en ja omdat ek baie van tegniese dinge geweet het, te danke aan al die kennis wat my pa gehad het in die ambag wêreld, is ek ook sommer in daardie rigting gestuur.

Na skool gebeur dit toe ook dat ek moet gaan werk soek en moes tevrede wees met wat ek kry, al was dit geensins in my rigting nie. Ek het lank gevat om op my voete te kom en na amper twee jaar het ek eers ’n vaste werk met potensiaal vir ’n toekoms gekry. Ja en ek het ’n sukses van die beroep gemaak en werk vandag nog as ’n speurder. Iets wat niemand ooit op skool sou kon voorstel as ’n rigting vir my nie, het ek in ’n groot sukses verander en gebou. Tog nou, na soveel jare het ek my liefde vir skryf en stories maak nie verloor nie. Ek het dit nog in my en dit sal altyd deel wees van my. Ek dink net ek het nou soveel ander dinge deurgemaak dat ek soveel meer het om oor te skryf. Ek het onlangs eers besef dat ek hierdie droom van my nog kan najaag. Niemand kan my keer om my droom uit te leef nie. Ek is en was nog altyd ’n dromer en om net ’n besluit te neem om daardie drome na te jaag, het soveel deure vir my geopen. Ek dink baie van my vriende en self familie lede was verbaas toe ek hulle meedeel dat ek boeke gaan skryf en laat publiseer. Baie mense se reaksie was gewees dat hulle my nie as ’n skrywer kan opsom nie. Dalk ook omdat niemand my werklik so diep ken nie. Dalk omdat ek my drome vir soveel jaar onderdruk het.

Dit mag dalk vir jou, die persoon wat hierdie vertelling lees, nie baie beteken nie, maar as ek net een boodskap by jou kan deurbring van dat dit nooit te laat is om jou drome uit te leef nie, het ek in my doel geslaag. Jy sien, ek skryf vir die liefde daarvan, maar dit is ook vir my ’n manier om mense te help. Dit is hoe ek dinge wat ek in die lewe geleer het, kan meedeel aan ander. Of jy nou dink ek kan nie skryf nie, maak nie werklik saak nie. Ek weet ek het ’n droom gehad toe ek ’n jong seun was en nou jaag ek daardie droom na met alles in my.

Ja, eendag lank-lank gelede was daar ’n droom. ’n Droom wat gedroom was deur ’n dromer. ’n Droom wat gegaan het oor die toekoms, ’n droom oor vandag. Vandag sal ek daardie droom ’n werklikheid maak. Ek leef nou in daardie droom en drome word werklikheid. Mag dit dan ook vir jou drome so wees…

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s